defBanner
LATEST NEWS


BOUPROJEK PRENTJIEMOOI LANGS BEACHWEG

GEORGE NUUS EN VIDEO - Motoriste wat in Beachweg ry word begroet deur die aller fraaiste huisies - elkeen met kleurpanele teen hulle buitemure - wat deel vorm van die behuisingsontwikkeling op Erf 325 Oos, oorkant Delvillepark.Altesaam 141 huise is reeds voltooi en bouwerk vir die hele projek (wat uit drie dele bestaan) sal nog minstens vir twee jaar voortduur.Met 'n vorige besoek aan die ontwikkeling in Februarie was bouspanne druk besig om staalroosters te installeer waarop die huise se fondasies gebou is. Nou pryk daar reeds strate met huisies wat wag op gesinne en vrolike kinderstemme.Volgens Charl Louw, projekbestuurder van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings, sal hierdie huise gedeeltelik deur die staat gesubsidieer word (Financial Linked Subsidy of Flisp-eenhede). Die paaie tussen die huise kan die Go George-busdiens akkommodeer en langs die huise is genoeg plek vir ’n voertuig en ’n wasgoeddraad. Alvorens begunstigdes die huise mag bewoon, moet die Outeniqua-rioolwerke se opgradering voltooi word. Na verwagting sal die rioolpypleiding volgende jaar in Junie aan die huise gekoppel word. Op 'n vraag oor straatname het Louw gesê ons moet maar "wag en sien", maar hy glo nie dié strate is na blommetjies vernoem nie.Die planne vir die huise wat ten volle gesubsidieer word (deel van die projek) is soortgelyk, maar met minder luukshede. Debra Sauer, assistent-kommunikasiebeampte by George-munisipaliteit, het by navraag geantwoord dat alle inwoners van Syferfontein 'n behuisingsgeleentheid in hierdie projek gegun is, met dien verstande dat hulle vir 'n behuisingsubsidie kwalifiseer.Rye kleurvolle huise pryk op ERF 325 in Rosedale."Ons is baie trots op die ontwikkeling, nou moet ons dit net oppas vir hul toekomstige eienaars," het Louw gesê. Die area is onlangs ten volle omhein en sekerheidswagte is dag en nag aan diens om te verseker dat hierdie huise nie onwettig beset word nie. Hulle hou selfs sosiale media dop vir tekens wat dui op sulke planne. "Wanneer iets verdags opgemerk word, rapporteer hulle dit aan die polisie," het Louw gesê.Rye kleurvolle huise pryk op ERF 325 in Rosedale, waar 'n grootskaalse behuisingsprojek behartig word. Hierdie 141 huise wat reeds voltooi is sal gedeeltelik deur die staat gesubsidieer word. Foto's: Michelle Pienaar

© Raubex Infra 2019 . All rights reserved. Website design & development by DIGITAL PLATFORMS.
Division of the Raubex Group of Companies.
Click here to visit the Raubex Group Website
footer_logo